NAMPO Oesdag 2008

Die NAMPO Oesdag skou is een van die grootste lanbou-skoue in die land en word jaarliks gehou op die NAMPO skou-gronde naby Bothaville in die Noord-Wes Provinsie. Die NAMPO-skou was vanjaar tussen die 13de en 16de Mei gehou en het sowat 70 00 besoekers gelok. Die hoogtepunt van die NAMPO-Skou is waarskynlik die diverse uitstalling van groot- en kleinvee. Hierdie uitstalling het vir ons ‘n ideale geleentheid gebied om in kontak te kom met mense uit verskillende sektore van die lanbou bedryf.

Die Miskruiernavorsingsgroep het vanjaar saam met die EWT (Endangered Wildlife Trust) uitgestal as deel van ons veldtog om bewustheid te skep omtrent die belangrike rol wat miskruiers speel in volhoubare parasiet-beheer. Ons doelwitte tydens die NAMPO-skou was: (1) om te netwerk met die hoof bees- en skaapteeler assosiasies, (2) om inligting te versprei rakende ons navorsing en (3) om terugvoering van die publiek aangaande die Miskruiervriendelike dipstowwe en insekdoders intesamel asook ons handelsmerk, wat binnekort op sekere produkte gaan verskyn, bekend te stel.

Die terugvoering vanaf die publiek was oorweldigend positief. Die boere-gemeenskap en die publiek het baie belangstelling getoon wou veral meer leer omtrent die voordele van miskruiers en is angstig om die handelsmerk op produkte te sien. Daar is steeds ‘n  wankonsepsie oor die belangrike rol van miskruiers in ekosisteme. Dit is juis om hierdie rede dat die landbou-gemeenskap so spoedig moontlik ingelig moet word omtrent die belangrikheid van miskruiers en hul positeiwe bydrae wat hulle lewer tot volhoubare parasiet-beheer.

Tydens die NAMPO-skou het ons net weereens besef hoe belangrik byeenkomste, soos NAMPO Oesdag is, om inligting aan die betrokke publiek oortedra. Verder was dit vir ons gerustellend om te verneem dat groot farmaseutiese-maatskappye net so positief is oor miskruiervriendelike produkte en dat hulle gewillig is om sulke produkte op hul rakke te bemark.

Sien julle weer by NAMPO Oesdag, 2009!